Visiting Venda

To our English-speaking blog readers: a translation of the travel journal will follow soon.  You can scroll down to the bottom for a story called LWAYO NA MILENZHE




Op een van die koudste oggende van die jaar vertrek Ina le Roux van die Tambani Projek en ek na Venda. Ons voertuig is tot in die kleinste hoekies vol gepak met skenkings, lap, borduurgaring, ’n beskeie hoeveelheid eenvoudige kos, ons bagasie en ’n bietjie beddegoed.


Voornaamlik oor die N1 reis ons rigting Venda. As ons ’n middagete stop inlas kan ons baadjies en truie uittrek. Die plantegroei langs die pad verraai ook warmer weersomstandighede. Die erythrina kaffras blom uitbundig. En die soorte bome en struike verander ook soos ons reis vorder.
Dit is ’n voorreg om met Ina hierdie rit aan te pak, sy is ’n uitstekende gids en ek wens ek kon afgeskryf het wat sy alles vertel het.
Om oor die Steenbokskeerkring te ry is ook besonder. Blykbaar sê mense wat weet dat daar eers die werklike Afrika begin.
In Makhado (L.Trichardt) doen ons nog ’n paar inkope, soos kos vir hoenders, ’n bietjie lekkergoed vir die kinders en ons laai nog eens petrol. In die omgewing van die Hendrik Verwoerd tonnels is ons pad omraam deur vrolike stalletjies met avocado’s en lemoene.
Ons verlaat die N1 en ry in die rigting van Thsipise. Dan sien ons ook al hoe meer kremetartbome. By die bordjie na die Nwanedi Natuurreservaat draai ons regs en na 12 km wasbord-gruispad is ons by Folovhodwe.
In hierdie dorp, asook in Muswodi, so vyf km verder, is daar ’n groep vroue wat borduur vir die Tambani Projek. Altesaam so om en by 55 tot 65 vroue. In Folovhodwe oorsien Selinah Mavhetha die vroue wat borduur en in Muswodi is dit haar skoonsuster Eni Nenzhelele wat die septer swaai.
Hierdie projek het so 20 jaar gelede ontstaan. Ina was toe nog ‘n dosent aan die Universiteit van Venda in Thohoyandou. Met die studente werk sy uit die boek “Dwaalstories” en na die lesing kom een van die studente na haar toe om te vra of sy nie die Venda verhale by ou vroue wil kom aanhoor en vaslê nie. Dit het Ina ses jaar geneem om ongeveer 55 verhale op te teken. Om toegang tot die gebied te kry en voorgestel te word aan die mense is sy in aanraking gebring met wyle pastoor Piet Mavhetha van die Kerk van die Nasirener op Folovhodwe. Meeste van die vroue wat vir die projek borduur is familie, of lidmate van sy gemeente. Toe Ina se werk daar klaar is het sy nie die hart gehad om die mense verder aan hul lot oor te laat nie. En haarself afgevra hoe sy hulle kan help. So is die idee gebore om hulle hul eie verhale te laat borduur. Ina teken self die afbeeldings en bring dit ook self op swart tekstiel lap aan.

Selinah het hart en huis oopgemaak vir ons en daar is ’n kamer vir elkeen. Die begroeting op Venda wyse is hartlik en uitvoerig. Al gou kom daar bure en mense van die dorp, kinders en kleinkinders groet. Almal is baie bly om Ina weer te sien. Op die stoep geniet ons van die heeltemal ander geluide: hoenders, bokke met ’n klok om hulle nek, gesellige gepraat van ander erwe. Intussen sak die son agter ’n paar koppies en raak alles stil.
Ons word geroep vir aandete. Eers mag ons hande was in ’n klein afwasteiltjie met lou-warm water en ’n vrolike kraakskoon handdoekie. Dan bid Selinah vir ons en eet ons saam met haar en haar suster pap, witbrood en tee.

Na ete sluit nog mense by ons aan en hou ons saam huisgodsdiens met Skriflesing, baie sing en gebed. Die vroue slaan saggies ritmies op die tafel of vryf hulle onderarm op die melodie van die liedere wat ons sing uit die Nyimbo dza Zwikhodo. Selinah was getroud met pastoor Piet Mavhetha en hulle het saam nege kinders van wie die meeste getroud is en kinders het. Van die seuns werk in Musina op die myn, een is ’n SAP speurder. Drink en rook is nie toegelaat nie en aan die huwelik word baie waarde geheg. Ek ervaar ’n aangename, vriendelike en warm gesinsatmosfeer.
Op die voorstoep, in ’n hoekie, stook Selinah reeds ’n paar uur ’n vuurtjie: eers vir die pap en dan vir warm water vir die gaste.
In ’n werklike badkamer sonder een enkele kraan, met ’n bad en ’n groot drom met koue water en ’n skepbakkie sit Selinah die warm matoertoer vir ons reg en beduie dat ons kan bad. Die eenvoud en nederigheid raak my diep en ek voel heerlik skoon met drie liter koue en twee liter warm water en baie sleg dat ek Selinah se stukkie seep moet gebruik, myne is by die huis vergeet. Eenmaal op bed luister ek na die heeltemal ander geluide. Die wind ruis saggies, hier en daar mekker ’n bok, later hoor ek jakkalse huil en dan is dit net stil en slaap ons. Hoe mooi is dit om in die middel van die nag op jou pantoffels met ’n klein flitsie op pad na die buite toilet die sterre hemel te bekyk. Selinah begin om half vyf vuur maak vir pap en water en die twee kleinseuns maak reg vir skool. Dan sluit ek by haar aan en groet ons saam die dag wat met ’n dieprooi son sy verskyning maak. Sy het dan reeds al die vrugtebome en haar twee groentetuine natgelei en watervoorrade in die huis aangevul.

Die nuwe dag hou baie opwinding vir my in want nou sal ek dan eindelik die vroue wat die malappies borduur ontmoet. En al gou begin hulle een een en soms saam aankom. Die begroeting en weersien met Ina is so hartlik. Maar ja, sy kom al 20 jaar in die dorpe en danksy haar briljante idee om vir hulle te leer borduur is hulle moeilike leefomstandighede bietjie beter. Johannes Mavhetha is vroeg op sy pos, hy is Ina se vaste tolk. Piet is sy broer maar Johannes is steeds nie gelowig nie. Ek sien gou dat hy sy status besonder geniet en met waardigheid dra. ’n Skoon mooi gestrykte Evkom hemp en selfs ’n choker. Ek hoef net te kyk en te luister. Soms sak ’n gesig van ’n vrou wat maar pas begin borduur het. Selinah en Eni is streng, die kwaliteit is belangrik. Soms moet hulle iets oordoen of beter werk. Ina betaal almal by ontvangs van hulle werk. Die 800 tot 1000 Rand wat van die beste borduursters om en by elke maand verdien help hulle om kinders skool toe te laat gaan, die mees nodige huisraad aan te skaf, klere te koop en kos. Dit is Ina en my se taak om weer terug in Napier en Johannesburg al die borduurwerk te verkoop.
Ina kom nie net om borduurwerk te ontvang, nuwe seefgedrukte malappies uit te deel nie, maar ook om die kleure en uitleg te bespreek en nuwe vroue se name op te skryf. Soos sy dikwels vir my sê, kom met sulke projekte altyd ander sake by. As Ina in die buiteland op internasionale kwiltskoue uitstal en die dames die verhaal agter hierdie projek lees en hoor en die lewensgeskiedenisse van elke borduurster lees (wat by elke malappie met die verhaal verskaf word) gaan harte en beurse oop. Ina bepaal dan waar die geld die beste aangewend kan word. Sy kyk wie die inisiatief, deursettingsvermoë en insig het om ’n groentetuin aan te lê. Met die vrou ry ons dan na die algemene handelaar (waar ek tot my verbasing ’n Nederlandse kassastrokie kry! “Thank you Uw bezoek en tot ziens”) waar omheining en pale vir ’n groentetuin en sade aangekoop word. Alles word dan later die middag aan huis afgelewer. Bokke, bobbejane, hoenders en ’n handjievol honde en klein grys varkies met swart kolle en pienk snoete moet ‘uit gehou’ word.


Soos ons die een na die ander vrou aan huis besoek kyk Ina of die skenkings sinvol aangewend word. Meeste erwe is groot en daar staan ’n RDP huis en buite toilet. Gelukkig – vind ek – bly meeste mense nog in hul oorspronklike klei- en grasdakhuise. Dit is so heerlik koel daarbinne, so rustig en dit ruik so lekker na gras. Daar is dikwels ’n kombuis- en ’n verblyf rondawel. Op die hoeke van huise met sinkplaatdakke hang groot swaar klippe om alles op sy plek te hou as die wind opsteek, en dit gebeur nogal daar. Soos ons op die stoep op ’n omgekeerde emmer of grasmatjie sit en gesels skarrel hoenders om ons en kyk ou-ou ouma’s deur skrefie oë na ons.

Dikwels skrik klein kindertjies vir die twee wit vroue en sit ’n behoorlike keel op. Ons besoek ook vir Dawid. Hy borduur dan wel nie, maar hy het ’n verhaal om te vertel. Jare gelede is hy aangestel om in die môre en saans by die dam die kraan na die dorp oop en toe te draai. Twee maal per dag te voet by die berg op en af. Die salaris wat belowe is het hy nooit gekry nie. ’n Weldoener by die myn betaal hom R350 uit sy eie sak elke maand. Nou is hy te oud om dit nog te kan doen en moet sy seun by hom oorneem. Dawid weet dat die Here sien wat hy gedoen het maar sy seun was al in die groot stede en is baie verbitterd. Die stoel waarop ek sit se regleuning is ’n ou verroeste ysterplaat met die Hyundai teken op. Was dit ooit deel van ’n trokkie? ’n Stukkie van die boom waaronder ons sit se bas begin beweeg. Dit is een of ander groterige insek met presies die kleur van die bas. Pragtig.
Die volgende dag ry ons met Johannes en Selinah na Muswodi. Lekker stadig verby baie kremetartbome wat natuurlik gefotografeer moet word. Die pad word herstel deur ’n groep vroue wat sodra hulle vir Ina ontdek aangehardloop kom en vir haar begin sing.
In Muswodi gaan ons eers na Jane se Crêche Rainbow. Jane het self die idee om kinders op te pas uitgewerk. Sy versorg tans meer as vyftig peuters en gee hulle twee maaltye per dag. Daar is niks meer binne die omheining as ’n reus van ’n kremetartboom, sand, nog sand en nog sand en ’n klein geboutjie met een klein kassie. Verder slaap daar twee van die kleinste kindertjies op ’n kombers op die grond en staan die res van benodigdhede en kombuisgoed opgestapel teen die muur. Jane kan intussen twee vroue betaal wat haar help om die kos te maak. Terwyl die kinders vir ons sing en ’n mooi rympie opsê wat vertel wat hulle naam is en die van hulle Ma en haar selnommer probeer ’n paar bokke hulleself help aan die kos wat wag ... gou, met een klip wat raak gegooi is, spaander hulle weg. Ons kan klere, speelgoed, boeke en kos bring wat deur weldoeners van oorsee geskenk is. Die vreugde en dankbaarheid is groot.
Jane verdien ’n medalje vir haar werk. Daar is jaloesie teenoor haar omdat mense dink sy word baie ryk uit die R100 per maand per kind wat soggens ’n sny brood met grondboontjiebotter en tee kry en ’n middagete van pap en groente. Dikwels word daar ingebreek by haar nederige gebou en alles wat binne is word gesteel of verniel. Jane is genoodsaak om alles soos speelgoed, mieliemeel en groente elke namiddag na haar eie huis toe te neem en dan die volgende oggend weer terug te bring. Die koste vir diefwering is net buite haar bereik.

Dan ry ons na Samson en Eni se huis waar dit ’n gesellige samesyn is van vroue en kinders, hoenders, ’n hondjie en twee bababokkies. Ook nou weer is almal so bly om vir Ina te sien.

Terwyl sy ‘malappie’ praat wys Johannes vir my hoe ’n donkiekar ingespan word. Ek moet sê, die donkies daar het my hart absoluut gesteel.

Samson en Eni het ’n baie groot groentetuin net oorkant die pad. Heeltemal omhein met stokke. Maar as ek oor die heining loer sien dit baie treurig daar uit. Johannes vertel vir my dat Samson ’n beroerte gehad het en dat sy regtervoet ‘nie meer wil luister nie’. Nou kan hy nie meer water met die kruiwa oorry nie. Ek wens daar was ’n tuinslang vir hom, hulle het ’n groot gesin en soos by Selinah klop ook hier baie mense vir hulp en raad aan.


So rustig en ingetoë as Selinah is, so ekstrovert en bly en sterk is Eni. Dit lyk of sy aanmekaar lag en almal om haar is vrolik en vol moed vir die lewe. As sy sien dat ek draaie loop om ’n pragtige afgedankte gebarste stampblok kom sy aangestap en met haar sterk arms tel sy dit op en sit dit in die motor. Ongelukkig kon vier ou matoertoers  wat ek in die strate opgetel het nie saam terug Johannesburg toe nie.
As ons sake afgehandel is gaan besoek ons nuwe borduursters aan huis sodat Ina foto’s kan neem vir die kaartjies by die malappies en hulle lewensverhaal kan aanhoor en afskryf. Daar is so ’n mooi eenvoud en vertroue in hul geskiedenis en wat my opval is dat meeste van die jong vroue, soms pas getroud, baie bewus nie in die bose groot stad wil bly nie. Hulle soek daar tevergeefs werk en hier kan hulle vir ouers en kinders sorg, vir hulle groentetuin en malappies borduur en so ’n inkomste verdien. Een van hulle wys baie trots die yskas wat sy met die malappiegeld kon koop. ’n Ander een weer ’n rekenaar waarmee sy vir ander briewe tik en haar studies mee kan doen. Daar is nou voorafbetaalde elektrisiteit in verskeie huise.
As ons terug ry na Folovhodwe wil Johannes opsluit iets vir ons wys. Dus ons ry maar soos hy beduie en stop by ’n erf. Hy wil eers ‘gaan hoor’. Terwyl ons wag kom daar van orals kinders aangehardloop. Dan moet ons kom. Al gou word duidelik dat al die kinders wees gelaat is. Twee van Selinah se skoondogters en nog ’n paar vroue uit die dorp het dit op hulle geneem om elke dag een maaltyd vir hierdie kinders te kook. Dit is ook die een oomblik elke dag waarop hulle bid, liefde ontvang, hul magies kan vul en ’n bietjie persoonlike higiëne sorg ontvang. Almal het vir ons gesing en ek het nie geweet wat om met my gedagtes en gevoelens te maak nie waar ek sien dat mense wat self swaar kry sonder klae gee uit hul hart met liefde.

Dan breek die dag aan om afskeid te neem. As ons vir Selinah groet hang sy vir Ina en my elkeen ’n tradisionele kraleband om ons hals. Ek dra dit graag na uitstallings waar ons ’n Tambani tafel het. Dit was maar moeilik om te groet! 




LWAYO NA MILENZHE
(Foot and Feet)

Ina and Clara went to Venda in the first week of August, 2011. Clara had never been in Venda. She took hundreds of pictures! Some overseas visitors think that the Venda scenery and specifically the soil resemble a moon landscape. We don't necessarily agree but if feet could tell where they have walked and what they have experienced ..... 

At our first stop after arrival in Folovhodwe. These feet belong to an old lady. It was winter but the sand was warm. In summer it is hot!

Feet from another makhulu (granny). The chicken really tried hard to come on the picture too.
A little girl is fast asleep on a concrete floor.
At Jane's Rainbow Creche in Muswodi.
Also at Jane's Rainbow Creche.

And yes, here is Eni Zenzhelele, the Tambani supervisor in Muswodi.

With her kind husband Samson. Samson recovered well from a stroke, for which we are so thankful. When he shared his recovery with us he also said and showed that his right foot "would not listen ... "This is so sad because Samson faithfully took care of a large vegetable garden just over the road from where they live. He would walk up and down with a wheelbarrow carrying large cans with water. He cannot do this any longer. It would be so nice if he had a long garden hose so that they do not need to buy their vegetables and can share again with less fortunate village people who come and call for help.



We will be continuing this story soon...